home   |   about us   |   articles   |   Q&A   |   forum   |   helplines   |   advertising   |   links   |   contact us

KRY ALTENATIEWE VIR DRAG SLAE
Deur Claire Marketos

'Voorgestelde nuwe wetgewing kan dalk beteken dat jy 'n boete van R300 opgelê word as jy jou kind slaan. Maar daar is alternatiewe maniere om "positiewe ouerskap" toe te pas.

Kinders kan liefdevol grootgemaak word sonder dat hulle geslaan word. Dit kan gedoen word deur positiewe ouerskap.

Hier is ouerskapkeuses wat werk:

Kinders het 'n behoefte aan positiewe aandag. As ouers is ons vinnig om ongewenste gedrag uit te wys. Ons kritiseer hul gedrag, klere, woorde en vriende. Kyk uit vir positiewe gedrag en prys hulle. Hou negatiewe kommentaar vir jouself en ontdek hoe hul gedrag oornag verbeter.

Kinders wil gelief voel. Sit elke dag tien minute opsy om elkeen van jou kinders vas te hou en te vertel hoe kosbaar hulle vir jou is, hoe trots jy op hulle is en hoe lief jy hulle het. Selfs al het jy vier kinders, sal dit steeds minder as 'n uur neem om gehaltetyd met elkeen van jou kinders deur te bring. Kyk hoe hulle selfvertroue uitstraal en skielik mededeelsaam word.

Kinders het konsekwentheid en voorspelbaarheid in reëls en roetine nodig. Hulle wil 100% seker wees wat van hulle tuis, by die skool en elders verwag word.

Hulle moet ook weet wat die gevolge gaan wees as hulle van die reëls afwyk. Reëls moet min en regverdig wees en beperk tot riglyne oor tydbestuur en aanvaarbare sosiale gedrag. Gevolge moet altyd opgedwing word en moet fokus op die verwydering van voorregte, sakgeld en waardevolle artikels, met die opsie om dit later terug te wen. As 'n ouer versuim om struktuur en roetine tuis te vestig, is dit waarskynlik dat die kind onveilig sal voel en hom sal wangedra.

Kinders moet medemenslikheid aanleer. Dit is die vermoë om jou in iemand anders se posisie te sien, in ag te neem hoe hulle voel en op 'n sensitiewe manier te reageer. Empatie is nie iets wat natuurlik gebeur nie. 'n Empatiese mens sal dit baie moeilik vind om iemand anders pyn toe te dien, of dit nou fisiek of emosioneel is omdat hulle bewus is van die slagoffer se gevoelens. Empatie is ook 'n sleutel tot hoë Emosionele Intelligensie (EI).

Verduidelik altyd vir jou kinders hoekom jy wil hê hulle moet hulle op 'n sekere manier gedra.

Selfs jong kinders sal na jou verduideliking luister, al verstaan hulle dalk nie elke woord nie. Jou stemtoon moet tydens so ’n gesprek ernstig, maar ook gerusstellend wees.

Erken kinders se gevoelens. Byvoorbeeld: "Ek weet jy wil nie jou sitplekgordel dra nie, want jy voel ingehok, maar dit is die verkeersreëls." Deur erkenning aan hul gevoelens te gee soos hulle dit uitdruk, sal kinders makliker 'n oomblik stop en na jou luister.

Om positief op te tree, moet kinders gemotiveer word, nie gedissiplineer word nie. Van driejarige ouderdom af reageer kinders uitstekend op "beloningskaarte" waarop hulle met sterretjies of punte vir goeie gedrag beloon word. Wanneer 'n kind tien sterre of punte versamel het, kry hy 'n klein beloning, maar dit mag nie kos wees nie.

Die sleutel tot sukses is om altyd konsekwent op te tree.

Wees 'n goeie rolmodel en voorbeeld van positiewe gedrag vir jou kinders. Ouers wat skree, vloek, slaan en voor die kinders baklei, maak hulle angstig. Kinders in só 'n situasie gee hulself dikwels die skuld vir ongelukkigheid in die gesin. Maak tyd vir jouself as ouer. As dit vir jou voel asof alles te veel raak, vra hulp van vriende of familie. Baklei in privaatheid met jou maat wanneer die kinders nie teenwoordig is nie.

Dink aan maniere om positiewe gedrag vir jou kinders te wys, want hulle sal jou na-aap.

Om as volwassene goed te funksioneer en suksesvol in die sakewêreld te wees, het jou kinders vaardighede nodig om hul probleme te help oplos. As aggressie en geweld ouers se enigste manier is om 'n probleem op te los, sal hul kinders dieselfde gedrag aanleer. Leer kinders om uit die boks te dink, veral wanneer hulle foute begaan. Hou 'n debat om die etenstafel en ondersoek sáám alle moontlike keuses wat jou kind in 'n spesifieke situasie kon uitgeoefen het.

Kinders het geduld en kreatiwiteit nodig om hulle in die rigting van positiewe gedrag te stuur. As jy weet hulle is moeg en geïrriteerd, probeer geduldig wees. Deur hulle te slaan, gaan jy sake net vererger. As jy weet jou kind is op die punt om 'n vloermoer te gooi, probeer 'n private plek kry waar jou kind homself vrylik kan uitdruk. Vloermoere kan 'n kind se spanning verlaag.

As ouers moet ons soms van 'n situasie wegstap en ons eie stres ontlaai. As jy brand om jou kind te slaan, vra jouself hoe jy sou gevoel het as jy in jou kind se skoene gestaan het. Probeer om op kreatiewe maniere in jou kind se behoeftes te voorsien.

Deur te fokus op wat kinders nodig het, maak jy dit soveel makliker om hulle groot te maak omdat hulle dan positief op jou sal reageer. Verbale of emosionele misbruik in die plek van 'n pak slae is nie 'n opsie nie. Probeer liewer positiewe ouerskap uitoefen vir positiewe resultate.'

(Beeld,Oktober 18,2007)http://www.news24.com/Beeld/Vroue/0,,3-1841 2204025,00.html.




Latest Articles

   Empty Nest
   ADHD
Copyright © 2008 by Claire Marketos. All rights reserved.
No part of this article may be reproduced or transmitted in any form or by any means, electronic or mechanical (including copying to other web sites, and including translations), without written permission from Claire Marketos.
powered by Genisys